Sleutelrol vir LP’s om leiers in toom te hou : Tim Hughes oor Afrika

Image: Flickr, PROAndrew Smith
Image: Flickr, PROAndrew Smith

Demokrasie is duur maar die alternatiewe kan veel duurder wees. Die transformasie van Afrika en meer spesifiek Suider-Afrika van sy diktature en oligargieë na wydverspreide demokrasie is nie minder besonders as die val van sosialistiese regimes in Oos Europa nie.

Afrika het van die 1960’s tot die 1980’s nie minder nie as 70 staatsgrepe en sluipmoorde op 13 presidente gadegeslaan. Nog pas in 1990 was daar net vier Afrika-lande (Senegal, Gambië, Botswana en Mauritius) waarin ‘n veelpartystelsel heeltemal aanvaar is.

Daar is tans 31 lande suid van die Sahara wat as verkose demokrasieë bedryf word. In 2004 is vry en regverdige verkiesings (ekstern beoordeel) in Suid-Afrika, Botswana, Mosambiek en Namibië gehou. Alle lande van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG), waaronder Swaziland en die Kongo (Kinshasa), bedryf ‘n vorm van ‘n parlementêre stelsel. En tog het min SAOG-lande die menslike en finansiële kapitaal belê om hul parlemente meer as bloot ‘n grondwetlike fasade te maak. Hoekom?

Die SAOG-lande is jong demokrasieë in oorgang en moet nog demokraties op dreef kom. Vir sommige SAOG-leiers is dit te beperkend en hulle het op tradisionele gebruike teruggeval. Ander gebruik die elegante patrone van demokrasie, maar verfyn hul grondwette na behoefte. Daar is inderdaad geen eindpunt vir die evolusie van demokrasie nie. Dit is ‘n lewende, organiese proses, onderworpe aan wye vertolking en kwesbaar teen omkering. Historiese, kulturele, etniese, godsdienstige, geografiese en ekonomiese verskille binne die SAOG-lande maak ‘n enkele model van demokrasie en sy instellings van regering nie net onmoontlik nie, maar ook ongewens. Daar is byvoorbeeld niks ondemokraties daaraan dat tradisionele leiers in ‘n saak geken word nie, soos met die kgotla -stelsel in Botswana. Tradisionele leiers is dikwels meer in voeling met die materiële, kulturele en veiligheidsbehoeftes van mense as die stedelike parlementslede (LP’s) op die leerbanke van parlemente in die koloniale styl. Die probleem ontstaan wanneer tradisionele owerhede bots met of hoër geag word as of die demokratiese parlement ondermyn.

Hoewel die grondwet van die meeste SAOGlande die kardinale politieke beginsel van die skeiding van magte en ingeboude grondwetlike kontrolemagte het, troef presidente maar altyd parlemente. Soms is die uitvoerende dominasie grondwetlik vasgelê, soos in die geval van Zimbabwe waar die president basies die parlement beheer deurdat hy 30 parlementslede benoem.

Hierdie uitvoerende/wetgewende wanbalans kom ook tot uitdrukking in verskille tussen die presidents- en wetgewende begroting. Die obsene uitgawes aan die nuwe presidensiële State House in Windhoek (luidens berigte R500 miljoen) in teenstelling met die verslete toestand van die parlement, is maar een voorbeeld. Die parlement in Lesotho het geen kantore vir LP’s nie en net een opslaan-vergadersaal vir gebruik deur die komitee oor openbare rekeninge. Selfs die vlagskip, die Suid-Afrikaanse parlement, steun swaar op die Europese Unie vir opleiding, openbare inligting en uitreikprogramme. Dit is in skerp teenstelling met die drastiese groei van dieSuid-Afrikaanse presidensie, veral sedert 1999. Maar dit is nie net die sterk uitvoerende gesag wat die skuld vir swak SAOG-parlemente moet kry nie. LP’s in die streek sukkel met gebrekkige tegniese kundigheid, opvoedingsvlakke, taalkundige bedrewenheid en betreklike swak vergoeding. Nog ontstellender is die geneigdheid om die aanspreekvorm ‘agbare’ tot ‘n verhewe vlak te voer waar hulle nie meer die belange dien van die mense wat vir hulle gestem het nie. Hierdie aanspreeklikheidsgaping word beklemtoon deur stelsels van proporsionele verteenwoordiging waar partylyste, eerder as die kiesafdelingstelsel, geld. Gevolglik is partylojaliteit die sleutel tot herbenoeming en herkiesing.

Hoe kan die swak vertoning van SAOG-parlemente verbeter word? Daar is reeds bemoedigende tekens in Namibië, Lesotho, Zambië en Zimbabwe waar programme ingestel is om parlemente doeltreffender, relevanter en aanspreekliker te maak.

LP’s moet baie meer aanspreeklik teenoor kiesers wees. Hulle moet minstens vier keer per jaar aan kiesafdelings verantwoording doen, en moet maandeliks kiesafdelingsklinieke hou. Tweedens moet LP’s hul rol as toesighouer oor die uitvoerende gesag baie ernstiger opneem. Korrupte praktyke, vermorste geld, uitgawes waarvoor nie begroot is nie, en burokratiese ondoeltreffendheid is vier terreine waartoe parlemente in die streek hulle moet verbind. Versuim om dit te doen, sal lei tot die verswakking van demokrasie in die streek, tot nadeel van ons almal.

Scroll to Top