Zanu-PF dink aan regverdige verslaggroepe vir verkiesing: Zim nooi ‘regte’ waarnemers

Image: Flickr, GovernmentZA
Image: Flickr, GovernmentZA

Kaapstad – Waarnemergroepe wat die Zimbabwiese verkiesing wil bywoon, sal 'binne die volgende paar dae' hul uitnodigings ontvang, het 'n senior Zimbabwiese diplomaat gister gesê.

Mnr. Pearson Chigiji, senior diplomaat by die Zimbabwiese hoë kommissariaat in Suid-Afrika, het gister gesê die uitnodigings sal gerig word aan groepe wat die ZanuPF-regering dink ‘regverdig verslag kan doen oor die verkiesing’.

Chigiji het ‘n bespreking oor parlementêre demokrasie in Suider-Afrika bygewoon wat gereël is deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir International Aangeleenthede (SAIIA) en waar die Zimbabwiese regering deurgeloop het onder akademici en ander belanghebbendes se kritiek.

Hy het gesê daar word versigtig gekyk wie om te nooi om die verkiesing, wat op 31 Maart gehou word, te gaan waarneem.

‘Baie mense in Suid-Afrika het belange in Zimbabwe en hulle sal die verkiesing verdraai soos dit hulle pas,’ meen hy.

Zanu-PF is vol vertroue dat dié party die verkiesing sal wen. Zimbabwe is hard aan die werk om die verkiesingsbeginsels soos uiteengsit deur die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) na te volg.

‘Die regering is nie regtig gepla oor die moontlike slegte dinge wat oor Zimbabwe gesê gaan word ná die verkiesing nie. Dié wat negatiewe dinge wil sê, moet dit sê. Ons is nie op pad na Londen of Washington om dáár verantwoording te gaan doen nie, ons moet verantwoordbaar wees aan die mense in Zimbabwe. Dit is al wat saak maak,’ het Chigiji gesê.

Mnr. Takawira Musavengama van die SAOG se parlementêre forum het gesê volgens die SAOGverkiesingsriglyne moet die uitnodigings reeds 90 dae voor die verkiesing gestuur word.

‘Maar dit is onprakties, want die datum vir die Zimbabwiese verkiesing is aangekondig na dié sperdatum.’

The views expressed in this publication/article are those of the author/s and do not necessarily reflect the views of the South African Institute of International Affairs (SAIIA).

11 Feb 2005